Soos met die beeld van die Libra, die Romeinse skaal en simbool van reg en regverdigheid, van ewewig en gelykheid, impliseer balans altyd twee kante. Wanneer die twee bakkies van die skaal dieselfde weeg, wys die naald dat die twee in balans is. Dan praat ons van die fyn balans, die sentrale punt waar daar gelykheid is.
Met konflik is dit nie anders nie. Soos met die beeld van die skaal, is daar twee partye – nes die twee bakkies wat op en af tiep, totdat hulle tot ‘n vergelyk kan kom en later ophou beweeg. Dit is die punt van konsensus en aanvaarding, van begrip en insig – die einddoel waarop albei partye moet mik.
Konflik, en veral gesonde konflik, is normaal en noodsaaklik. Mense verskil. Mans en vrouens verskil. Menings, doelwitte en maniere van doen verskil. “Soveel mense, soveel menings”, het die ou filosowe gesê. En waar mense saam leef en werk, vryf hulle teen mekaar af en konflik word deel van die dinamiek van die lewe.
Om konflik te vermy – in enige menseverhouding – is soos om ‘n drukpot te laat droog kook. Ȇrens in die nabye toekoms, gaan die druk opbou tot die pot ontplof. Konflik tussen emosioneel volwasse mense kan ‘n bousteen word wat tot beter begrip en groei kan lei – mits dit reg hanteer word.
Konflik wat die regte pad loop, eindig altyd in balans. Wanneer albei partye ‘n wen-wen oplossing nastreef, kan konflik gebruik word om die lug te suiwer, mekaar beter te verstaan en so te groei. Maar dis makliker gesê as gedaan.
Nes met die skaal se twee bakkies, gaan dit in konflik oor ‘n magstryd. Die een met die meeste mag, of die sterkste argument, weeg die swaarste. Maar – en hier lê die geheim – as die een party die ander een uitskakel, is daar nie meer sprake van balans nie. Want balans kan net tussen twee partye wees – albei moet op die dansvloer bly tot die musiek ophou.
Konflik gaan nie oor wen nie, maar oor verstaan en uiteindelike aanvaarding. Balans as einddoel van konflik, is harde werk. Dit vereis dat albei partye die hele tyd volwasse, regverdig en bewus moet wees. Menslik, is dit nie sommer moontlik nie. Maar met die gawe van God se wysheid, liefde en onderskeidingsvermoë, kan jy by balans uitkom.
Indien jy hierdie artikel geniet het, koop gerus Lynette Beer se boek - Pêrels in jou sak
Uit die Woord:
“ Jy sal verseker geen deernis kry as jy nie deernis
betoon nie. God se deernis vir jou is egter sterker as sy oordeel.
”
– Jak. 2:13 (NLV)
We invite you to talk to us about a workshop that will best solve your personal and professional issues. Should you not be able to conduct a face-to-face workshop anytime soon, feel free to browse through our online store for one of our self-help books.
Seeds of Inspiration (Pty) Ltd t/a Lynette Beer | Registration Nr: 2011/134865/07
Po Box 41921, Moreleta Ridge, Pretoria, South Africa, 0044
Copyright © 2023 Digital Zoo Website Design Company - All Rights Reserved
Domain Registration
|
Email Address
|
Website Design
|
Graphic Design
|
Social Media Management
|
Search Engine Optimization
|
Online Marketing
|
Web App Developer