Onthou jy nog die dae toe ons leer briewe skryf het? Dit was deel van die skoolsillabus. Ek onthou nog die aanhef: Beste So-en-so... En dan het ons ewe formeel geëindig met Die uwe,...
Ek wonder of kinders dit nog leer op skool. In my skooldae was daar nie iets soos e-posse of whatsapps en vinnige boodskappe nie. Daar was ook ʼn posdiens wat betroubaar, briewe en pakkies betyds afgelewer het. Ek kan my amper nie indink dat ons in hierdie vinnige tye uitgelewer moet wees aan die spoed van die posman en sy fiets nie!
Maar wat tog hartseer is, is dat handgeskrewe briewe nou vir altyd iets van die verlede is. En daarmee saam, die kuns van briefskryf. Briefskryf was iets spesiaals. Die skrywer het êrens gaan sit en met pen in die hand aan jou gedink. Hy of sy het die uur of halfuur met jou gepraat deur eers mooi te dink en dan op die lyntjies sy of haar boodskap vir jou uitgeskryf. Met ʼn beste- of ʼn liefdegroet aan die einde.
ʼn Tydjie terug kuier ek terloops met ou skoolvriende in ʼn koffieplek. Ons het ʼn paar kattekwaadstories gedeel, en toe begin praat oor ons gunsteling-onderwysers. Wat ons by hulle geleer en wat hulle vir ons beteken het. En een ding waaroor ons al drie saamgestem het, is dat ons so spyt was dat ons nie gaan dankie sê het nie – vir die wat nou nie meer met ons is nie.
Dit bring ons toe op die gedagte dat ons moet briewe skryf vir dié wat ons nog kan opspoor. Ons het elkeen ʼn naam of twee gekry om te gaan soek en ons het onderneem om vir elkeen ʼn brief te skryf – ʼn dankiebrief, voor dit te laat is.
Dit het my laat besluit dat ek voortaan elke week een dankiebrief gaan skryf, sommer op e-pos, kort en kragtig. Om vir mense wat my pad kruis, te sê dat ek hulle waardeer. Ek het in my kop begin lysies maak en besluit ek sal ʼn notaboek moet kry. Daar is heeltemal te veel mense wat ín my siel belê het...
We invite you to talk to us about a workshop that will best solve your personal and professional issues. Should you not be able to conduct a face-to-face workshop anytime soon, feel free to browse through our online store for one of our self-help books.
Seeds of Inspiration (Pty) Ltd t/a Lynette Beer | Registration Nr: 2011/134865/07
Po Box 41921, Moreleta Ridge, Pretoria, South Africa, 0044
Copyright © 2023 Digital Zoo Website Design Company - All Rights Reserved
Domain Registration
|
Email Address
|
Website Design
|
Graphic Design
|
Social Media Management
|
Search Engine Optimization
|
Online Marketing
|
Web App Developer